Geskryf deur Dr Jaap Nel

As daar nou een onderwerp is wat al holrug gery is, is dit hierdie een. Gaan kyk maar, daar is nie ‘n duiwetydskrif waarin daar nie ‘n artikel is of waar daar nie minstens in een of meer artikels na konflik verwys word nie. En tog is dit seker die moeilikste en huigelagtigste onderwerp waaroor ‘n mens kan skryf. Net om oor die onderwerp te skryf is reeds om vir moeilikheid te soek, want onvermydelik gaan jy op iemand se tone trap. My vrou sê ek geniet dit om ‘n reaksie by mense uit te lok, daarom is ek gedurig besig om hoeke uit te gooi en onvermydelik is daar ‘n paar niksvermoedende duiweboere wat die aas gryp. Hierdie keer is my doel met hierdie artikel nie om met enigiemand die draak te steek nie; ook nie om enigiemand kwaad te maak of skuldig te laat voel nie; ook nie om die indruk te skep dat ek foutloos is terwyl ander mense nie so oulik is soos ek nie. Al wat ek met hierdie artikel probeer bereik is om duiweboere ‘n bietjie te laat nadink in die hoop dat ons almal die duiwesport en mekaar se kameraadskap meer kan geniet.

Elke mens het die vermoë om op een van twee maniere te dink en te reageer. Die eerste en maklikste is om op jou eie ego terug te val. Dit is dan wat jy sommer maklik vir ander kwaad word, want enigiemand wat jou ego krenk doen jou ‘n onreg aan en dit mag nie toegelaat word nie. Dit is wanneer ons, ons eie ego probeer verdedig dat ons sommer maklik op ons perdjie spring en ander mense se koppe afbyt. En jou eie ego skep altyd ‘n sneeubaleffek– jy vererg jou omdat jy voel dat iemand anders jou te na kom of beledig, dan kry jy skaam vir jou kinderagtige gedrag want jy weet dat jy besig is om jouself as iemand met ‘n kort humeur te etiketeer, dan word jy kwaad vir die persoon wat jou in die eerste plek kwaad gemaak het, want dit is sy skuld dat jy jou nou weer sleg gedra, dan reageer jy sommer weer negatief en onvolwasse omdat jy die situasie nie kan beredder nie en so gaan dit aan. Nog erger, as jy jou humeur verloor omdat jy jou ego wil beskerm skei jou liggaam adrenalien af, en‘n mens raak maklik verslaaf aan so ‘n adrenalien-inspuiting sodat jy naderhand onbewustelik skoor soek net om weer ‘n lekker skoot andrenalien deur jou are te voel bruis.

Die tweede manier om te dink en op ander mense se gedrag of uitsprake te reageer is uit jou gees. Wanneer jy uit jou gees leef is jou eie ego nie vir jou so belangrik nie. Trouens, jy leef eerder ter wille van ander mense. Wys net hoe slim Christus was toe Hy gesê het jy moet jou naaste liefhê soos jouself. As jy jou naaste liefhet soos jouself sal dit vir jou belangrik wees om ook nie jou naaste te na te kom nie, en dan reageer jy heeltemal anders op dit wat jou kwaad sou maak as wat jy uit jou ego sou reageer. Jou gees kan nie beledig word nie, want hy verstaan dat ander mense dikwels ook maar net op hulle ego aangewese is en van jou verwag om hulle te verstaan en hulle nie te beledig of te na te kom nie. Jou gees het nie ‘n swak selfbeeld nie en het daarom ook nie nodig om kwaad te word nie – dit jou is ego wat kwaad word.

Dit is die duiweboer wat behep is met sy ego wat selfs oneerlik sal wees net om te wen. Sy ego wil dat ander moet dink hy is beter as hulle. Ironies genoeg glo so-iemand dan ook dat hy beter is as ander, al was hy oneerlik en al was dit sy duiwe wat die vliegwerk moes doen. Maar die duif kry geen erkenning nie omdat die oneerlike duiweboer weet dat die duif eintlik niks beteken nie – sy ego klou vas aan die eerste plek wat op die uitslag staan, maak nie saak hoe dit behaal is nie. Soms word die duif wel opgehemel in advertensies, want dan verkoop die duif mos teen ‘n beter prys. Weer is dit die ego wat praat, want die ego is dikwels ook geldgierig. Dit is ook die ego wat daartoe lei dat die kampioen duiweboer homself as verhewe bo ander mense ag. In sy eie oë is hy so belangrik dat alles wat hy sê wet word. Almal moet na hom luister en sy wense moet eerbiedig word.

Dit is ook die duiweboer wat uit sy ego leef wat geen genade met sy duiwe het nie – die duif moet net vlieg en presteer al kos dit die duif ook sy lewe. En as iemand anders se duif syne klop het daardie persoon beslis verneuk, want op ‘n regmatige manier kon hy dit nie regkry nie. Dit is ook die ego wat veroorsaak dat duiweboere jaloers op mekaar raak, skinder, ander duiweboere nie gelukwens wanneer hulle duiwe presteer nie en nog vele ander. Die duiweboer wat uit sy ego leef dink ook altyd ander is verkeerd, nooit hy nie. Konflik word deur ander veroorsaak, nooit deur hom nie. As hy nie sy sin kry nie is die ander duiweboere onredelik, oneerlik, onvolwasse, dom, moeilikheidmakers.

Ten slotte, die duiweboer wat uit sy gees leef kan nie in sy eer gekrenk word nie. Hy gee om vir sy duiwe en vir sy medemens. Hy is bereid om die minste te wees as dit nodig is om konflik te vermy. Nee, hy is nie iemand wat toelaat dat ander hom boelie nie. Daarom kan hy sy standpunt duidelik en ferm stel, dog hy is altyd bereid om met ‘n oop gemoed na ander se argumente te luister. Sy selfbeeld is goed genoeg om nie te voel dat hy as verloorder uit die stryd stap elke keer wanneer die meerderheid klublede van hom verskil nie. Dit is nie dat hy altyd met almal saamstem of hom aan ander se besluite onderwerp nie. Sy oordeel gaan nie oor wie reg of verkeerd is nie maar eerder oor wat reg of verkeerd is. En as dit wat besluit, gesê of gedoen word nie regverdig en eerlik is in belang van almal nie sal hy uit die moed van sy oortuiging standpunt daarteen inneem. ‘n Mens kan jou ego en jou gees skei en jy kan besluit watter van die twee jou lewe gaan oorheers, maar dit verg ‘n wilsbesluit en doelbewuste oefening om uit jou gees te leef.