By Antonie Visser

Goeie more vriende, duiwevriende en publiek. Dankie vir die geleentheid om deel te kan he aan u kosbare tyd en om van my wonderlike ervaringe van die wedvlug duiwesport met u te kan deel. Ongelukkig is vanoggend se gesprek baie oorhoofs en indien daar in die toekoms weer geleentheid is, sal ek graag in meer diepte wil gesels oor spesifieke aspekte wat vir u belangrik is.

Die duiwesport is n wonderlike manier  om intens met die natuur betrokke te raak en om van die grootste uitdagings van die natuur  te kan ervaar, terwyl dit u vermoe as afrigter en persoonlikheid beproef.  Dit vereis n goeie balans tussen die duiweboer en die duif om suksesvol te wees. Die duiweboer moet n liefde vir die duif het, die duif verstaan, kundig wees mbt die verskillende aspekte van teling, voeding, afrigting, motivering , energie opbou en herstel na n wedvlug. Dit vereis n bepaalde kundigheid (kennis is mag), deursettingsvermoe, waarnemingsvermoe, geduld en veral n passie vir die duif.

Om kompeterend te wees is dit belangrik dat die duiweboer hom/haarself op die hoogste sport van die duiwesport moet kry om die beste uit die duif te kan kry. Aan die duif kant moet die beste genetiese material verkry  word, dit reg benut word ten einde opwaarts in die sport te beweeg. Baie duiweboere kry die beste duiwe, maar weens n gebrek aan geduld, kennis en vaardigheid word die top duiwe gereduseer na die gemiddelde, hetsy deur swak teling, swak versorging, swak afrigting en/of swak waarneming. Vir n duif om met die bestes te kan kompeteer is dit duidelik en logies dat so n duif sodanig toegerus moet word met net die beste behandeling, voeding , afrigting en motivering dat dit n regverdige kans het. Die goue reels in die verband is:

  1. Die beste genetiese materiaal.
  2. Die beste gesondheid. Hiermee bedoel ek nie oor medikasie nie. Balans is die woord. Hou die duif gesond van die basiese bedreigings soos kanker, wurms en koksidiose. Ent vir pokke en Paramixo. Gee konserwatief vitamienes en maak seker dat duiwe se waterbakke skoon is en minstens in die aand leeggemaak word.
  3. Die duif gemotiveerd is, Hier is die basiese reels van Maslow ter sprake. Dus voorsien aan die basiese behoeftes van kos, slaap, veiligheid/sekuritiet (geskikte hok met voldoende spasie en ventilasie) en die behoefte om aan te behoort en te versorg. (Oppaar en kleintjies)
  4. n Goeie verhouding met die baas.
  5. Fiks en voorbereid vir die taak van wedvlugkompetisies. Balans tussen oefening, voeding en rus. Om die balans te optimeer vereis aanvoeling en kundigheid gekombineer met n fyn waarneming.
  6. Rus is baie keer die beste medikasie. Die duif is n lewende wese en nie n masjien nie.

Tydens die afrigting en voorbereiding van die duiwe vir wedvlugte is daar ook n paar goue reels.

  1. Maak seker dat die duiwe fisies in staat is om die stress van die oefening en wedvlugte te kan hanteer. Dit beteken dat hule klaar verveer moet wees, want indien nie sal die verliese onnodig hoog wees. Hier wil ek sommer noem dat ek regtig glo dat ons jaarliks te vroeg begin en dan die duiwe dwing om met halwe vere dekking te vlieg. Dit gewoonlik wanneer die seisoen onstabiel is met baie mis. Gevolglik lei dit tot  onnodige  verliese van jongduiwe. Ons kan met gemak die 1e wedvlug vlieg na die seisoen gedraai het, dus 21 Jun wat beteken die duiwe hoef eers na die verveerseisoen dus begin Mei geoefen te word. Die wedvlugte kan dan maklik strek tot einde Okt. Die enigste vereiste is dat wedvlugte verder as 650km nie in Okt gevlieg word nie.
  2. Die oefening moet egalig opgebou word , dit sluit ook in die afstande vir oefenvlugte. Hier kan ons baie by die natuur leer. Kyk bietjie hoe roofdiere hulle kleintjies beskerm en leer om te jag. Netso kan ons met geduld en hulp van die ouer duiwe die jongduiwe leer. Ek glo nie aan skok behandeling van jongduiwe nie, byvoorbeeld n eerste oefenvlug van 100 km, want baie goeie jongduiwe word so onnodig verloor.
  3. Duiwe moet gesond wees. Medikasie , veral kanker medikasie kan soms tot groot verliese lei, omrede dit die balans en orientasie van die duif kan aantas. Dus is dit belangrik om duiwe gesond te hou, maar wees versigtig watter medikasie wanneer gebruik word. Ek het al self my erg in die voet geskiet met medikasie op die verkeerde tyd, byvoorbeeld sulpha middels wanneer dit warm is en in die week van mandjie. Die stress wat dit op die duiwe se niere plaas is net te veel om kompeterend te wees.
  4. Die duiwe moet deur drie fases in n week geneem word, naamlik skoonmaak, heelmaak en opbou. Met skoonmaak bedoel ek nie n oordosis purgeermiddels nie, maar wel om die duiwe te help om van oortollige melksuur en moontlike infeksies ontlsae te raak. Met heelmaak bedoel ek spier opbou met proteiene, pro-biotika en aminosure. Die opbou het ten doel om die energievlakke op optimum vlak te kry vir die spesifieke wedvlug. Dit vereis n fyn balans tussen koolhidrate en vette. Ons het sulke wonderlike sade in Suid-Afrika, byv mielies, sorghum, sonneblom, grondboontjies edm. Alles wat ingevoer word is nie altyd beter nie.
  5. Deesdae het ons uitstaande weervoorspelling informasie beskikbaar op die internet. U kan werklik dit gebruik om te beplan vir die wedvlug, terwyl bestuur ingeligte besluite kan neem oor loslatings van die duiwe al dan nie. Die doel is om aan wedvlugte deel te neem waar die kompetisie optimaal is, terwyl onnodige verliese beperk word.

Opsommend
Met die Genade van Bo het ek die voorreg gehad om met die duiwesport vir meer as 40 jaar betrokke te wees. Ek het ook die geleentheid gehad om meer oor duiwe te lees as wat ek gelees het om verskeie Unieversiteitsgrade te voltooi. Ook was ek bevoorreg om duiweboere in Belgie, Nederland, Hongarye, Engeland, Australie en Amerika te besoek. Steeds kan ek noem dat tsv al die blootstelling ek nog steeds nie die sport bemeester het nie en is dus nog steeds n goeie student is wat graag meer leer. Nogtans wil ek graag die volgende slotgedagtes uit my ervaringe van die duiwesport met u deel.

  1. Duiwesport is uitdagend, wonderlik en vereis vele dissiplines soos voeding, teling en afrigting. Bestudeer die verskillende disciplines, maak dit jou eie en met jou gesonde verstand, geduld, goeie oordeel  en deursettingsvermoe sal jy beloon word.
  2. Die sport is n terapie en dit is wonderlik om te sien watter waarde dit toevoeg tot lewens selfs tot op n gevorderde ouderdom.Duiwesport is harde werk 365 dae van die jaar, maar glo my vry dit sal u brein besig hou en u jonk hou. Ek onthou nog hoe wyle Monty van der Burgh op 80 jarige ouderdom onder die broeikas ingeduik het om my die goeie teelduif te wys.
  3. Daar is meer goeie duiwe as goeie duiweboere. Telkemale soek ons die fout by die duiwe ipv by onsself. Wees regverdig met u duiwe end it is nie nodig om elke jaar u stoet te verander nie, veral as hulle hulself reeds in die verlede bewys het.
  4. Ten spyte van al die teoriee oor hoe goeie duiwe lyk, is dit nog steeds moeilik om die wilskrag van n duif met hantering te bepaal. Daarom die leuse: THE BLOOD WILL TELL:
  5. Onthou: hoe meer n duif wen hoe mooier word hy/sy.
  6. Agv die risiko’s langs die pad sal jy later eventueel alle duiwe verloor as jy hulle lank genoeg vlieg. Dus moet nie oorgretig raak en jou duif uitbuit/misbruik en aanhou vlieg en eventueel verloor nie, terwyl jy met gesonde oordeel en verstand n goeie teelduif in die broeihok kon gehad het.
  7. Dit is wonderlik om die sport te help groei. Dit word gedoen deur beginners en vriende te help. Van die lekkerste lekkerte is wanneer iemand jou terugvoer gee oor besondere prestasies wat hy/sy behaal het met duiwe waarmee jy hulle gehelp het. Kompetisie is gesond en belangrik om die sport aan die lewe te hou.
  8. Die Liewe Vader het ons gesonde verstand gegee, kom ons gebruik dit. Moenie teen die natuur kompeteer met swak besluite soos om te vroeg te begin oefen, onnodige roetes oor berge te vlieg of deur onoordeelkundige loslatings nie.
  9. Die kompetisie in die sport is goed en stel standaarde. Geniet dit , maar onthou jou familie en vriende is netso belangrik. Kwalitei ty den balans is wonderlik.
  10. Duiwesport vereis baie tyd , 365 dae van die jaar, baie waarneming en baie geld. Die beloning is egter groot wanneer jy die sukses van jou harde werk beleef met goeie resultate. Dus: GENIET JOU DUIWE, JOU VRIENDE, JOU FAMILIE EN DIE DUIWESPORT SE UITDAGINGS!!!!

Antonie Visser
082 781 6790